Inleiding tot kerkleierskap

Die gedeelde gemeenskapslewe is en bly altyd sinvol en lekker maak nie saak hoe jy daarna kyk nie. Veral nie wanneer dit goed gaan en almal lief vir mekaar is nie. Ek glo en vertrou dan ook dat dit goed gaan met julle almal. Onthou: Vir God is niks onmoontlik nie! Vertrou op Hom en jy sal nooit beskaamd hoef te staan nie.

Ek wil ’n bietjie gesels oor geestelike leierskap. Daar was nie ‘n posisionele of ‘n hiërargiese leierskap struktuur in die vroeë kerk nie. Almal was gelyk. Die vyfvoudige bediening en die gemeente lede was almal op dieselfde vlak. Elkeen het maar net sy unieke funksie uitgevoer en die gawes beoefen soos die Heilige Gees dit uitgedeel het. Niemand het outoriteit oor ander gehad nie en niemand het die gemeentes of gemeentelede beheer nie. Die apostels het nuwe gemeentes geplant maar nooit daardie gemeentes beheer of eienaarskap daarvan geneem nie.

Die enigste posisionele leier in die kerk is Jesus Christus Homself. Hy is die Hoof van die kerk en Hy was deur die Vader aangestel as die enigste Hoof van die kerk. Jesus is die enigste Persoon wat outoriteit oor die kerk, gemeentes en kinders van God het. Net Hy kan instruksies gee en net Hy kan praat van Sý kerk, Sý gemeente of Sý bruid. Die kerk behoort nooit aan ons nie en ons mag nooit oor God se mense regeer soos die wêreld oor mense regeer nie. Dit is God se eiendom en dit is heilige grond.

Ignatius van Antiochië was die eerste persoon wat die betreurenswaardige pad van leierskap volgens die wêreld patroon gestap het. In die middel tweede eeu het hy in elke gemeente een van die ouderlinge verhef deur hom aan te stel oor die ander ouderlinge. Hierdie ouderling het gou bekend gestaan as “biskop” en hy het die funksies van die ander ouderlinge oorgeneem. Dit was Ignatius se teenvoeter vir dwalinge en kettery. Hy het die biskop se funksie stelselmatig vergroot om meer beheer te kry en die biskop posisie selfs gelyk met Christus gestel. Volgens hom het die biskop al die mag in die gemeente en moet hy absoluut gehoorsaam word. Hy moet vir alle praktiese doeleindes beskou word as die Here Homself omdat hy God hier op aarde verteenwoordig. Almal moet die biskop volg soos wat Jesus die Vader gevolg het. Dit was baie gou vir die ouderlinge of gemeentelede nie meer beskore om iemand te doop of die verbond maal te bedien nie. Wat die biskop ook al goedgekeur het, sal voor God ook welgevallig wees. Dit is goed om God en die biskop te erken. Hy wat die biskop eer, eer ook die Vader. Doen niks sonder die biskop nie. Beskou die biskop as ‘n “tipe” van die Vader.

Teen die derde eeu was dié praktyk reeds algemeen en in die vierde eeu het Konstantyn dit reg deur die bank amptelik ingestel. Alles het nou om die biskop gedraai. Alles het deur hom gegaan. Hy het alles gedoen. Hy was verantwoordelik vir alles wat in die gemeente gebeur en natuurlik is ook die negatiewe voor sy voete gelê. Die arme man is oorlaai met verantwoordelikhede wat nooit so bedoel was nie en die negatiewe gevolge daarvan is deur die eeue duidelik sigbaar as ons kyk na die wrakke van stukkende herders en kerkleiers in die kerkgeskiedenis. En natuurlik, daarmee is Jesus se instruksies oor leierskap in die kerk totaal geïgnoreer.

Lees Matt. 20:25-28

Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.

Let op die volgende woorde:

“heers” “gesag uitoefen” “só moet dit onder julle nie wees nie” “dienaar wees” “dienskneg wees” “dien”

Lees ook Lukas 22:25-26

En Hy het vir hulle gesê: Die konings van die nasies heers oor hulle, en die wat gesag voer oor hulle, word weldoeners genoem. Maar so moet julle nie wees nie; maar die oudste onder julle moet word soos die jongste, en wie ’n leier is, soos een wat dien.

Jesus veroordeel hier baie duidelik die wêreld se leierskap sisteem.

Mettertyd is al hoe meer wêreld metodes en strukture ingestel. Maak nie saak hoe jy na die volgende woorde kyk nie, dit kan nooit in een sin met die kerk genoem word nie: Beplanning, strategie, outokratiese bestuurstyl, demokratiese bestuurstyl, delegasie, bosberaad, steekproewe, statistiek, reklame, reklame veldtogte, fondsinsamelings projekte, evaluasie, sekuriteit, dissiplinêre aksie soos die wêreld dit doen kompleet met industriële dissiplinêre kode, afdanking, arbeid unies, hofgedinge oor aanstellings en afdankings, vergaderings volgens wêreldse patrone, universiteit opleiding, posisionele aanstellings, onderhoude, rade en assosiasies, hoofkantore, streek kantore, konstitusies, sosiale strukture, werk beskrywings, werk prosedures, ens.

Hier volg ‘n tipiese jaar beplanning van ‘n herder in die institusionele kerk:

  • Revalueer die gemeente se visie en missie.

  • Stel die gemeente se reputasie in die lokale gemeenskap vas.

  • Meet die demografiese en geestelike behoefte van die gemeenskap.

  • Fokus op die veiligheid van die vaste bates.

  • Knap die gemeente se begroting en uitgawe proses op.

  • Opgradeer die fasiliteite en toerusting vir die kinder bediening, jeug bediening, tegnologie en media.

  • Begroot vir konsultante vir fondsinsamelings en reklame veldtogte.

Die groot rede hoekom Herders van gemeentes natuurlik bogenoemde, soos ‘n tipiese kleinhandel saak moet doen, is die volgende:

  • Herders sukkel met missie en visie probleme omdat hulle nie duidelike direksie en doelstellings het nie. Dit gebeur wanneer ‘n organisme met duidelike Skriftuurlike direksie vervang word met ‘n organisasie, want nou het daardie Skriftelike aanwysings en rigtingaanwysers irrelevant geword.

  • Kerkleiers besef dat die mees effektiewe institusionele kerke dié kerke is wat bewus is van die behoeftes van die gemeenskap en baie aktief in die gemeenskap is. Soos ‘n goeie kleinhandel besigheid moet die gemeente soos ‘n geoliede masjien funksioneer om sukses te behaal.

In die proses is die gedeelde gemeenskap lewe van die “liggaam van Christus” stelselmatig doodgedruk. Die gemeentelede het baie gou passief geword want die struktuur het deelnemende interaksie nie toegelaat nie. Een persoon doen nou alles.

Stelselmatig is Jesus Christus se posisionele posisie as Hoof van die kerk negatief beïnvloed en die Heilige Gees gawes het opgehou funksioneer of in ‘n beperkte mate gefunksioneer. Gemeentelede kan eenvoudig nie meer die gawes in die nuwe struktuur beoefen nie as gevolg van die aard van die struktuur asook die afwesigheid van vrymoedigheid om die gawes te beoefen. Die gawes van die Gees is met menslike liturgiese aktiwiteite soos aankondigings, enkel leier (sangleier) prys en aanbidding, pastoors gebed, preek en persoonlike bedieningstyd vervang – Die gawes van die Gees is bedoel vir klein gemeentes wat wissel tussen 6 tot ongeveer 25 lede wat ook, as die vertrek dit toelaat, selfs ‘n bietjie meer kan wees. Gemeentes wat groter as dit geword het, het gewoonlik verdeel en in twee huise bymekaar gekom. Dit was belangrik dat die vertrek wat gebruik is al die mense gemaklik kon bevat en hulle moes in ‘n sirkel sit sodat almal gemaklik mekaar kon sien en met mekaar kon praat.

Selfs God was nie meer tuis in die nuwe opset nie en Hy is nog steeds nie tuis nie. Hy werk in die dienste en byeenkomste soos Hy toegelaat word om te werk. Dit is harde woorde om te hoor maar dit is waar. Daarom het God ‘n besoeker geword. Daar waar Hy baie toegelaat word daar besoek Hy baie en daar waar Hy min toegelaat word daar besoek Hy min. Daar is denominasies waar Hy niks toegelaat word nie en daar het Hy Homself geheel en al onttrek. Mense in so ‘n denominasie is besig met ‘n dooie godsdiens.

Wisselwerking:

  1. Hoe voel jy oor missie en visie in die gemeente en hoekom?

  2. Dink jy jou gemeente voldoen aan jou verwagtinge?

As jy meer wil lees oor Nuwe-Testamentiese kerkleierskap, kry die boek, “Bybel gefundeerde leierskap”, op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuisblad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment