Is wonderwerke en kragtige dade nog steeds vir vandag?

Dit is waarvoor Jesus Christus met Sy bloed, Sy liggaam en Sy lewe betaal het!

Jesaja 53 is die bekendste Skrifgedeelte wat die verlossingsdaad van Jesus Christus die mooiste beskryf. Hy het ons krankhede op Hom geneem, ons smarte het Hy gedra, terwille van ons oortredinge is Hy deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel, die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom, hy het ons skuld gedra, die sondes van die mense het Hy gedra.

Die mooiste Skrifgedeelte in die Bybel wat sonder twyfel bevestig dat Jesus gekom het om ons siektes te genees vind ons in Mattheus 8:14-17:

En toe Jesus in die huis van Petrus kom, sien Hy sy skoonmoeder siek lê aan die koors. En Hy het haar hand aangeraak en die koors het haar verlaat, en sy het opgestaan en hulle bedien. En toe dit aand geword het, het hulle baie na Hom gebring, wat van die duiwels besete was; en Hy het die geeste met ‘n woord uitgedrywe; en almal wat ongesteld was, het Hy gesond gemaak, sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet (Jesaja 53) toe hy gesê het: Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons siekte gedra.

Hierdie Skrifgedeelte verwys na die genesing van Petrus se skoonmoeder en ál die mense wat Jesus gesond gemaak het. Let op dat Hy almal gesond gemaak het sonder enige uitsondering. Dit bevestig dat die hele verlossingswerk van Jesus alles insluit vir almal. Daarom moes Jesus, wat teruggaan na die Vader, die gawes van die Gees en die doping in die Gees aan sy volgelinge skenk sodat hulle sy verlossingswerk kan voltooi (Mattheus 10:8)

Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang (gawe, geskenk) verniet moet julle dit gee.

Psalm 103:3 sê reeds in die Ou Testament al die volgende:

Wat al jou ongeregtighede vergewe, wat al jou krankhede genees

Hier sê Dawid dat die Here ál ons krankhede genees. 1 Petrus 2:24 sê dieselfde ding:

wat self ons sonde in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.

Jesus moes die totale vloek dra sodat ons in totaliteit geseën kon word

Jesus moes dit wat ons gehad het voor die sondeval weer herstel. Deuteronomium 28 is baie duidelik oor al die ellendes, siektes, pes, armoede en vervloeking wat gekom het oor die mens as gevolg van die sondeval. Die gevolge van sonde was vernietigend. As gevolg daarvan het dit baie sleg met die mens gegaan. Hy was verlore, verlaat, in ‘n uiters betreurenswaardige posisie, geen hoop, geen uitkoms, geen vooruitsig van vrede of verlossing, die hel as voorland, dood en ellende en die ewige straf die enigste gevolg en enigste vooruitsigte wat die mens in die gesig gestaar het, en wat hy deeglik verdien het. Sonde het net al meer geword en die mens het net dieper in ellende verval. Hy kon hoegenaamd niks doen om sy omstandighede te verander nie. Die mens was absoluut vervloek. Vervloeking is in werklikheid die straf van God. Vervloeking was die gevolge van sonde.

Ons het reeds in Jesaja 53 gesien wat Jesus op die kruis vir ons gedra het. Daar is egter nog skrif wat verduidelik wat hierdie verlossings werk van Jesus alles behels het. Sien Galasiërs 3:13-14:

Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word – want daar is geskrywe: vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang – sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus.

Daarom is daar dan geen vloek meer vir ons wat in Christus Jesus is nie. Die “vloeke” leer van sommige leraars in die institusionele kerk dra dus geen water nie. Jesus het alles wat negatief, afbrekend en vernietigend is alles op Hom geneem. Jesus sê selfs dat Hy arm geword het sodat ons ryk kan wees in 2 Korintiërs 8:9

Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.

Wie kan my sê watter ding was die enigste ding waarin Jesus te kort geskiet het? Wat was daar wat Hy nie volmaak in was nie? Natuurlik! Jesus was arm! Hy het niks besit nie. Hy sê self in Lukas 9:58

Die jakkalse het gate en die voëls van die Hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie.

Ek glo dat Jesus die meeste van die tyd in die opelug onder bome geslaap het. Hy moes hierdie vloek van die wet, naamlik armoede, ook op Hom dra sodat ons ryk kan wees. Inteendeel iemand het eenkeer gesê dat die verlossingswerk van Jesus Christus kan allesomvattend in een sinnetjie gesê word: “Hy het die hele vloek op Hom gedra”. Dit beteken dat Jesus die volle straf gedra en betaal het.

Waarvan is ons verlos?

Kom ons maak ‘n lysie van wat die Bybel sê Jesus vir ons gedra het en ons van verlos het:

Sonde

Oortredinge

Ongeregtighede

Straf (Dood, Hel)

Krankhede

Smarte

Siekte

Wonde

Pes

Armoede

Vloeke

Hierdie verlossings werk van Jesus is ‘n genade werk. Geen poging van enige aard van ons kant af kan enige verlossing teweeg bring nie. Ons pogings is van geen waarde nie omdat ons nie tot enige goed in staat is nie. Net Hy het gekwalifiseer om die prys te betaal en die seëls van die boek oop te maak. Hy het die volle prys betaal en Hy skenk daardie verlossing aan almal wat glo. God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gestuur het om die prys te betaal. God is ‘n God van kompassie en daarom is ons ook verlos van die gevolge van die sonde. Hy het ons nie net van die sonde verlos nie maar ook van die gevolge van sonde. Sy verlossingsdaad was volkome.

Deur al die eeue heen tot Jesus Christus weer kom, is Hy met verlossing besig. Hy red mense elke dag, Hy genees mense elke dag, Hy doen wonders in mense se lewens elke dag, want dit is wat Jesaja 53 sê Hy aan die kruis betaal het. Om hierdie rede sal die Gees gawes nooit ophou nie. Dit is juis om hierdie rede dat Jesus die “groot kommissie” beveel het: Gaan heen, verkondig die evangelie aan alle mense, leer hulle van my, maak hulle gesond en dryf die duiwels uit, wek die dooies op, julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.

Om dit te doen móés Hy die Gees van God vir ons gee en daarom word ons gedoop in die Heilige Gees. Hy móés ons ook die gawes van die Gees gee want sonder die gawes óf sonder die Heilige Gees kan ons nie hierdie instruksie van Hom uitvoer nie. Daarom het Hy ook gesê soos die Vader My gestuur het stuur Ek julle. Julle moet voortgaan waar Ek opgehou het. Julle moenie iets anders doen nie. Ek het die volmaakte werk gedoen en julle gewys hoe. Doen net wat Ek julle geleer het om te doen. Hy het onomwonde gesê dat die werke wat Hy doen, sal ons ook doen en groter werke as dit.

Jesus sê so, hoekom aanvaar ons dit nie so nie?

Om sy verlossingswerk volkome vir alle eeue te maak het Jesus besluit om sy kinders te gebruik om dit te doen. Hy werk natuurlik kragtig saam met hulle om hierdie taak tot uitvoer te bring. Ons is die instrumente waardeur Hy sy volkome verlossingswerk doen. Ons bring die woord na ‘n ongeredde persoon. Hy hoor die woord, hy glo, en hy word gered. Die eerste deel van die verlossingswerk van Jesus is afgehandel. Nou deel ons met die persoon die verlossingswerk van genesing, hy hoor die woord, hy glo, ons bid vir hom, hy word gesond. Die verlossingswerk van Jesus in sy totaliteit funksioneer op hierdie manier. Wat dit betref, kan ons dieselfde oor onsself sê wat Jesus oor Homself in Lukas 4:18 gesê het:

Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om (in die Naam van Jesus Christus) die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenis vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.

As ons sê dat die Heilige Gees gawes nie meer vir vandag is nie dan vat ons weg van die verlossingswerk wat Jesus Christus gedoen het. Ons kan nie iets van die woord van God wegvat nie. Dit bly die waarheid maak nie saak hoe ons glo of voel nie. Die woord sal vasstaan tot in ewigheid.

Wisselwerking:

Jesus sê self dat Hy ons stuur soos die Vader Hom gestuur het.

Hy sê dan in soveel woorde dat Hy ons gestuur het om presies dit te doen wat Hy gedoen het.

Hoekom twyfel ons daaroor en hoekom is ons bang of huiwerig om dit so te aanvaar?

Die mens wat sê dat God vandag nie meer genees nie ken nie die woord van God nie en ook nie die krag van God nie.

Daarmee sê hulle eintlik dat God nie meer kompassie vir mense het nie.

Kan jy insien dat Jesus Christus sy kinders van alle eeue toerus om met hierdie verlossingswerk van Hom voort te gaan?

Jesus Christus se kompassie teenoor mense wat ly en swaarkry was groot. Hy het selfs op die Sabbat mense van die bindings van satan verlos en wou nie wag vir die volgende dag nie.

Hoe sien jy bogenoemde stellings?

Is daar enigiets, wat jy van weet, wat nie deur Jesus in ons plek gedra is nie? Wat is dit en hoekom sê jy so?

As die Bybel sê dat Jesus die vloek gedra het sodat die seëninge van Abraham ons deel kan word, waarom ervaar ons dan nie net seëninge nie? Is dit moontlik dat die fout dalk by ons kan lê?

Tot daar nie ‘n enkele siekte in hierdie wêreld oor is nie sal wonderwerke en genesings nie ophou nie. Hoe voel jy oor hierdie stelling?

As jy meer wil weet oor hoe gewone kinders van God in die huiskerk gemeente funksioneer, kry sommer nou die boek, “Bediening in die huiskerk gemeente”, op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuis blad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment