Wat is ‘n Jesus bediening?

Met die skryf van hierdie gedeelte het ek swaar gesteun op Jannie van Zyl se boek, Isébel jag profete.

Ons het nou by die belangrikste gedeelte van hierdie reeks gekom. Dit behandel die kern van ons huiskerk belewenis. Alles wat ons tot dusver behandel het was bloot ’n bespreking van Bybel gefundeerde beginsels wat die huiskerk leefwyse in die huiskerk gemeenskap beheer. Dit het die optrede, gedrag, struktuur en leefwyse van die tipiese Christen, huiskerk gemeente en geestelike leier redelik tegnies weergegee. Maar dit gesê, al is dit Skriftuurlik en waarlik Bybel gefundeerd, beteken dit net mooi niks as die beginsels van hiérdie hoofstuk nie deur elke gemeentelid, die gemeente en die vyfvoudige bedienaars omhels word nie. As hierdie God saad nie diep in hul gees geplant word en ontkiem nie, gaan hierdie belewenis ’n mors van tyd wees. Dan bly dit steeds ’n dooie godsdiens en het daar bitter min lewens verandering in ons plaas gevind. Ons kan dan maar net so wel in die institusionele kerk bly en maar net voortgaan om ’n georganiseerde godsdiens te omhels in stede van ’n korporatiewe intieme liefdes verhouding saam met Jesus en saam met ons geestelike familie te leef.

Almal, ek herhaal, álmal in die huiskerk gemeente en in die liggaam van Christus kom hier voor ’n baie belangrike kruispad tot stilstand. Dit is hier waar die koste bereken word en die koring van die kaf geskei word. Dit is hier waar die prys betaal word en die mooi voorneme waarlik ’n werklikheid word. Dit is egter ook hier waar die roepstem van die liefdes God, die Hemelse Bruidegom, in die geraas van vrees of in die aanloklikheid van vlees verdoof word. Hier sterf ons in ons self maar hier draai ons ook teleurgesteld om. Is die prys vir ons te hoog om te betaal? Is die ander prioriteite in my lewe te belangrik om op te gee? Die bruid het die Hemelse Bruidegom se lewe gekos toe Hy ons met sy bloed gekoop het. By hierdie kruispad gaan ’n liefdesverhouding met die Bruidegom óns lewens kos. Is ek bereid om my lewe neer te lê en Hom in absolute oorgawe en vertroue te volg, te omhels en te aanbid? Is ek bereid om alles terwille van Hom alleen op te offer? Dit is presies wat dit jou gaan kos; alles. Die Skrif sê hy wat sy lewe verloor sal dit behou.

Ek het op verskeie plekke genoem dat die Jesus van die ware Bybel gefundeerde huiskerk anders is as die Jesus van die institusionele kerk. Hy word anders ervaar en anders beleef. Dit is ’n kontroversiële stelling en dit ís die waarheid. Die verwesentliking daarvan hang egter van elke lid van elke gemeente af. Die intieme liefdesverhouding met Jesus asook die intieme liefdesverhouding met jou geestelike boeties en sussies is die faktore wat hierdie stelling ’n werklikheid maak. Die verwesentliking daarvan kom egter net as Jesus Christus werklik die enigste fokus punt van die gemeente is en ’n intieme verhouding met Hom die kern van hulle saamwees is.

Dit klink alles mooi en goed maar voor jy nie alles wat jy in die loop van die jare bymekaargemaak het op die altaar neerlê nie gaan niks gebeur nie. Dit is alles of niks. Al jou godsdienstige aktiwiteite, al jou oortuigings, al jou leerstellings, al jou “bedienings”, jou eie voorkeure, al jou metodes, al jou heilige koeie, al jou opinies, al jou begeertes, al jou geestelike troetel goedjies. Nie ’n enkele een daarvan mag en kan oorbly in jou lewe nie. As jy nie jou rug daarop keer en nét Jesus omhels nie sal daar altyd ’n Jesus “plus” iets in jou lewe wees wat vir jou belangrik is. As niks meer vir jou so belangrik soos Jesus self is nie, dan sal jy ’n passievolle oorgawe en toewyding aan Jesus Christus, ons Hemelse Bruidegom kan maak. Net dan sal jy ’n liefdes slaaf van Hom kan wees. Enigiets wat jy nie neerlê nie sal jou liefdes wandel met Hom vertroebel en sal die liefdes verhouding plek maak vir godsdiens. Dit is soos dit werk. Dit is óf Hy in sy volheid óf godsdiens.

Mense wat dink dat hulle nie ander “plus” goedjies het nie en geen godsdienstige aktiwiteite beoefen nie maak die meeste van die tyd ’n baie groot fout. Die godsdiens is baie subtiel. Jesus plus mý bediening is godsdiens. Jesus plus mý gunsteling leerstelling is godsdiens. Jesus plus mý metode is godsdiens, Jesus plus mý pastoor is godsdiens, Jesus plus mý opinies is godsdiens. ’n Jesus “plus” bedienaar bedien nie Jesus nie. Hy bedien sy geestelike stokperdjie.

Hoe keer ’n mens jou rug op alles wat jy die afgelope twintig jaar geleer het? Hoe doen ’n mens daardie oorskakeling? Dit is nie ’n maklike pad nie. Daar is ook nie ’n kort pad nie. Jy moet ’n oop en gehoorsame gesindheid hê. Jy moet ’n begeerte in jou hê om net God te behaag en niks of niemand anders nie. Net die God van genade kan jou van godsdiens bevry. Daardie iets anders wat jy óók wil behaag is jou godsdiens. Dit is die “plus”. Jy moet ’n daadwerklike besluit neem om net Jesus te aanskou en te omhels en niks anders nie. Dit is ’n pad van geloof. Dit is ’n pad van vertroue. Dit is ’n pad van oorgawe. Dit is ’n pad van opoffering. Meer nog, dit is ’n pad van liefde. Liefde verdryf die vrees. Liefde vir ons hemelse Bruidegom verdryf alle ander “liefdes”. In Jesus se heerlike en majestueuse liefdes teenwoordigheid verdwyn al die ander goed. Alle geestelike seëninge werk deur liefde. Die Jesus “liefde” wat Hy as saad in jou gees deponeer bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles, dit is lankmoedig en vriendelik, dit is nie jaloers nie, dit is nie opgeblase nie, dit praat nie groot nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, handel nie onwelvoeglik nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit vergaan nimmermeer. Ons moet net een liefdes bed hê. Net een intieme binnekamer. Daar mág nie twee of meer wees nie.

Die liefde van Christus dring ons: 2 Kor. 5:14

Want die liefde van Christus dring ons.

Hoekom spesifiek die liefde van Christus? Hoekom nie die liefde van die Vader nie of van die Heilige Gees nie? Hoekom nie die liefde van God nie? Want die liefde van Christus is huweliksliefde. Dit is bruidsbed liefde. Dit is die intiemste liefde wat daar is. Dit is daardie liefde wat ons dring. Hy het ons innig lief. Hy is mal verlief op sy bruid. Sy is uit Hom gebore. Sy is wesentlik deel van Hom. Hy leef sy bruid. Hy kan nie en wil nie sonder haar wees nie. Sy vervul sy hele wese. Hy het sy lewe vir haar gegee. Sy brand in sy hart soos ’n liefdes koors. Ons reageer wanneer ons hierdie liefde vir Hom in óns harte voel brand. Ons reflekteer daardie liefde terug na Hom. Dit is hierdie liefde wat ons dring. Dit is hierdie liefde wat deur die godsdiens doodgemaak word. Dit verdring hierdie liefde. Kyk wat het gebeur met ’n gemeente wat werke (godsdiens) begin vertroetel het:

Op. 2:2-5

Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het; en dat jy verdra het en lydsaamheid besit en terwille van My Naam gearbei en nie moeg geword het nie. Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat hetbekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.

Hier sien ons as jy arbei sonder jou eerste liefde dan versaak jy Christus. Dit is Hy wat hier aan die woord is. Dit is ’n brief van Christus aan die gemeente van Efese. Hy sê: “Bekeer jou en doen die eerste werke”. Wat is die eerste werke? Die eerste werke is om Christus passievol lief te hê en toe te laat dat Hy die werke doen. As Christus die werk doen dan is dit Gees werke. Sodra die kerk die werk doen dan is dit siel werke. As jy die hele gedeelte lees (Vers 1 – 7) dan sien jy dat daar nie ’n vreeslike afwyking in die arbeid van die Efesiërs was nie; daar was ’n subtiele klemverskuiwing. Die arbeid het Jesus vervang en ’n siel aktiwiteit geword. Sodra Jesus vervang word dan verloor ons ons eerste liefde.

Hierdie liefdes saad is eintlik die hemelse Bruidegom Homself. Hý is liefde. Wanneer Hy in jou woon en leef dan handel jy in liefde. Wanneer jy ’n “plus” evangelie het dan wandel jy nie meer in liefde nie. Die “plus” is nie so onselfsugtig, rein, suiwer en mooi soos die liefde in Christus nie. Dit maak seer, dit verdra nie, dit soek sy eie belang. Wanneer Hy en die “plus” in jou woon dan word Hy stil. Hy kompeteer nie met jou ander liefdes nie. Hy staan terug vir jou “plus” evangelie en die “plus” godsdiens dikteer jou geestelike lewe.

’n Diepe afhanklikheid en ’n onwrikbare geloof in Hom verander alles want vir God is niks onmoontlik nie. Net Hy is genoeg. Die “plus” goedjies is oorbodig. Ons het dit nie nodig nie. Hy is in staat om te doen ver bo wat ons kan bid of dink. Sy liefde vloei soos openbaringskennis vanuit Hom ons binneste in. Dit is juis hierdie voortdurende openbarings van Hom wanneer ons Hom voortdurend in sy glorie en almag aanskou wat die geloof in ons harte laat opspring en ons in staat stel om die nodige opofferings te maak. Hoe meer ons Hóm aanskou hoe groter word Hý in ons. Hoe meer ons net Hom alleen omhels hoe meer laat ons Hom toe om in ons en deur ons te lewe. Hoe groter Hy in ons word hoe makliker word dit om die eie Ek op te offer.

Die eerste stap vir die nuwe huiskerk gemeente is dus om die godsdienstige aktiwiteite neer te lê. Alles daarvan: Geen georganiseerde bidure meer nie, geen deur tot deur evangelisasie meer nie, geen uitreikings, geen olie salf, geen shofar blaas en Joodse feeste meer nie, geen baniere swaai, geen “dienste” meer nie, geen planne en metodes meer nie, geen kompetisie meer nie, geen leerstellige oortuigings meer nie, geen oorreding meer nie, geen kontrole meer nie, geen vereistes nie, geen wette of regulasies nie, geen druk, geen skuldgevoelens meer nie, geen beplanning, geen moets en moenies, geen oproepe en mobilisering nie, geen redenasies en debatte meer nie, nie meer “werk” vir Jesus nie, geen ambisie meer nie, geen tegnieke en formules nie, geen geestelike stokperdjies nie, geen programme en aanbiedinge nie, geen geestelike take nie, geen duiwel beswering meer nie, geen bloedlyn vloeke breek meer nie, geen eindtyd leerstellings en oortuigings meer nie, geen fondsinsameling meer nie. Hierdie goed lyk reg en lyk goed maar is van bitter min waarde. Dit bevat geen lewe nie. Dit is ’n dooie godsdiens.

Die kerk het siel aktiwiteite begin toepas en nie Gees aktiwiteite nie. Ons het na die probleme begin kyk en hierdie probleme uit die siel dimensie aangespreek. Ons is “geleer” hoe om situasies te hanteer. Ons is geleer om sekere metodes toe te pas in sekere omstandighede. Wanneer ’n probleem opduik is ons van ’n aksieplan voorsien. Ons weet hoe. Ons ken al die stappe na wat ook al. Ons is op behoeftes gewys en geleer hoe om in daardie behoeftes te voorsien. Oortuigings, programme en metodes het die paaie deur moerasse vir ons oop gekap tot ons heeltemal verdwaal het. Ons het ons oë van die God van ons geloof afgehaal en na allerhande metodes en maniere gedraai vir oorlewing. Dit het vir ons belangrik geword. Ons weet nie meer hoe om in die Gees te wandel nie. Ons kan nie meer op God wag nie. Ons help self uit waar ons kan. Ons “bedien” ywerig om die behoeftes te ontmoet en die probleme op te los. Ons het reaktiewe bedienaars geword. Ons bedien na gelang van faktore van buite.

“Bedienings” het vir die kind van God ’n heilige koei geword. Almal het ’n bediening en almal probeer hierdie bedienings naarstigtelik najaag. Bedienings lysies word uitgegee en kruisies getrek om “jou” bediening te identifiseer. Hierdie bedienings het ons fokus geword en dit vat al ons tyd en energie. Ons het ons verhouding met ons Hemelse Bruidegom verruil daarvoor. Langs die paaie van hierdie bedienings lê stukkende mense; mans, vrouens en kinders. Bedienings verwoes lewens. Party bedank hulle werk en begin leeglê in die naam van ’n bediening. Party is “geroep” om duiwels uit te dryf, party reis die wêreld deur om sy musiek bediening uit te leef, party is ’n “spesialis” in eindtyd leerstellings, party is woord spesialiste en is geroep om ander reg te “leer”, party het ’n kinder bediening en ander ’n jeug bediening, party dans en ander voer toneelstukke op, party is voorsangers en ander sangleiers. Al hierdie dinge het “bedienings” geword en dit definieer hierdie bedienaars. Dit is wat hulle is en dit is wat hulle doen. Dit hou ons besig. Dit is hierdie bedienings wat in ons lewe. Dit is al waaroor ons praat en dit is al wat ons bedink. Al hierdie aktiwiteite en bedienings lewer egter min sukses op. Hoekom? Omdat God nie in aktiwiteite en bedienings is nie. Hy is in iets baie meer dinamies. Tog “bedien” almal onverpoos voort. Die wedywering om sukses in die institusionele kerk het kommerwekkend geword.

Any institution has to compete in at least three ways to stay relevant. Its first contest is with itself, and inevitably, internal rivalries for position develop. It is a caste system that divides and categorizes Christians in the Church into clergy and laity. Titles abound, and anyone wishing to excel in His Kingdom will have to resign from work. The next step would be to join a seminary and be released to do ‘God’s work’ once an appropriate title is bestowed on such a person. Secondly, Church as an institution now also falls under the broader term of religion. Thus classified, it also has to define itself in relation to other religions. This also means it has to compete with other religions – it is now the Church, against the others. Thirdly, the Church now also competes for power and position against the other institutions of society, such as government, economy, culture, sport and the like. To stay relevant the Church has to make compromises, conform and be an expression of the cultural mood of the day.

– Johan Carstens

Hierdie bedienings word met verskillende gesindhede uitgevoer: party is nederig en hulle motiewe opreg, ander is arrogant, party is jaloers op mekaar, party is manipulerend, ander is vol selfvertroue, ander beskeie, party is vol van hulleself, party geniet hulleself terdeë, vir ander het die “bediening” ’n straf geword; dit is soos om gras te sny, vir party het dit ’n roetine geword, party is bereid om sy vrou en kinders te skei vir sy bedienings onthalwe, party glo God lei hom om presies dít te doen, party gaan in die “bediening” omdat hy te lui is om ’n regte werk te doen, party dink hulle doen God ’n groot guns.

In die proses word hierdie mense deur baie faktore aangespoor: Vir party is dit sy brood en botter en sy bediening is eintlik net ’n metode om ’n lewe te maak, vir party gaan dit oor aansien, party is gemotiveer om vir God te “werk”, party wil vir Hom ’n bres slaan, party bedien omdat ma en pa dit so wou gehad het, ander voel geroepe om dit te doen, vir party is dit bloot net vir die genot wat dit verskaf.

Hierdie bedienings en aktiwiteite word op ’n professionele manier uitgevoer: Daar gaan baie beplanning in die werk, daar word gesny en geskaaf aan die materiaal, deeglike voorbereiding word gedoen, ure se navorsing word gedoen, niks word onaangeraak om ’n sukses van die onderneming te maak nie, net die beste materiaal en metodes word gebruik, “excellence” word vereis en gepromoveer, goeie kontrole word uitgeoefen. Daar brand ’n groot ywer in ons harte vir ons bedienings.

Die georganiseerde godsdiens het ons sy slaaf gemaak. Dit is taak georiënteerd en skryf ons voor. Dit is stereotiep. Dit dryf ons. Ons móét deelneem, ons móét “perform”, ons móét sukses behaal, ons móét vasbyt, ons móét deurdruk. In die godsdiens is daar baie teleurstellings, daar is wanhoop, daar is verwerping, daar is uitbranding en daar is mislukkings. Dit is ongenaakbaar want dit is geskep om jou te verniel en om jou besig te hou. Godsdiens is nie ons vriend nie, dit is ons vyand. Dit gee voor dat diegene wat bedien word baat daarby en die wat bedien God behaag. Dit is egter nie die waarheid nie. Die wat bedien word ervaar bitter min baat daarby. Die wat bedien betaal ’n groot prys daarvoor. God word nooit deur godsdienstige aktiwiteite behaag nie. Hy is nie in godsdienstige bedienings nie. Hy is in iets baie meer dinamies.

Die fokuspunt van die godsdiens is dit wat die bedienaar aan die mense wil oordra. As dit ’n musiek bediening is dan is dit die musiek wat oorgedra word, die motief is een of ander geestelike visie of begeerte maar op die ou end gaan dit oor die musiek, as dit ’n lering is dan is dit die studiemateriaal wat oorgedra word. Die bedienaar is gefokus op dit wat hy oordra. Die mense wat bedien word fokus op die bedienaar en dit wat hy oordra. Hulle leer hoe en waar en wanneer en hoeveel en waarom. Hulle denke word vol daarvan. Die metodes word net beter. Elke nuwe metode wat ’n “treffer” is of wat sukses behaal word nagejaag. Die bedienaar voer sy bediening professioneel uit en in die proses geniet hy aansien, agting en respek. Dit neem nie lank vir so ’n persoon om baie geliefd onder die mense te word nie. Hy vestig sy bediening en die mense volg hom. Hy brei sy bediening uit. Dit word groter en groter en beter. Hy gebruik die ondersteuning van die mense (finansiële en fisiese ondersteuning) wat hy deur middel van sy talente en persoonlikheid aanwend om sy bediening te ontwikkel. Hierdie metodes is egter nie Godgegewe metodes nie. Dit is heksery (towery):

Gal 5:20

Afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap

Jannie van Zyl verduidelik dit as volg:

Heksery is vals invloed en gesag; dit is om bevange te wees met ’n gesindheid wat mense BEHEER. Vir vals invloed en gesag om te werk moet mense óf gevly, óf geïntimideer, óf gemanipuleer word…Heksery of towery het te make met goed bedoelde godsdienstige aktiwiteite buite God se roeping, salwing en wil. Dit is eiesinnigheid in aksie…Wanneer ’n geestelike leier sielskrag gebruik ten einde mense se samewerking te verkry om sy ambisie of droom (hy noem dit visie wat hy van die Here ontvang het) gestalte te gee, is dit heksery…Geestelike leiers verval maklik in Charismatiese heksery deur ambisie. Ambisie is ’n siel produk. “Ek” kom op die voorgrond. Hulle wil vir die Here werk…n Kenmerk van hierdie tipe bediening is dat hulle altyd met ’n Jesus “plus” iets vorendag kom…Die oortuigings en aktiwiteite wat ons naas ’n liefdes wandel met Jesus daarstel is gewoonlik baie hard en swaar. Vir die persoon in towery vasgevang is Jesus alleen nie genoeg nie. “Jesus plus my visie om Suid-Afrika vir Jesus te wen”, “Jesus plus my metode van aanbidding”, “Jesus plus my mening oor die Antichris”, “Jesus plus”…”Jesus plus”…Om ’n mens se “plus” lewend te hou moet baasskap beoefen word. ’n Vals koningskap word oor mense uitgeoefen. Die “plus” verdring Christus. Die eenvoud van ’n liefdesverhouding met Hom verdwyn…Heksery in die Woord sin het te make met godsdienstige oortuigings en aktiwiteite wat die produk van die vlees is en nie van die Gees nie.

– Jannie van Zyl

Die siel aktiewe geestelike leier gebruik sy vermoë om mooi en effektief te preek tot sy eie voordeel. Hy sien niks fout daarmee nie, want hy doen dit vir die koninkryk van God. Sy motiewe is eerbaar. In sy preek is gedeeltes wat die instandhouding van die institusie bevorder. In sy preek verhef hy homself subtiel om sy posisie te handhaaf en te beskerm. Dit is tot voordeel van die kerk en daar is niks fout daarmee nie. In sy preek maak hy subtiele suggesties om ondersteuning vir sy visie te behou. Natuurlik is dit alles vermeng met ware Gods woord. Hierdie mense wil graag mooi en goeie dinge vir die koninkryk van God doen. Hulle motiewe is gewoonlik eerbaar. Mense kan dit sien. Dit wat hy oordra tesame met sy dinamiese persoonlikheid word vir die mense ’n groot aanknopingspunt. Hulle sien sy sukses, hulle leer en hulle na-aap. Hulle wil soos hy word. Hulle word vol van hom. Hulle word in die proses aan ’n mens verbind en aan ’n oortuiging verbind in stede van Christus. Die godsdiens is baie subtiel. Jy besef nie eens dat hy jou inkatrol en verslaaf nie. Alles lyk so goed en voel so goed. Salig onbewus van sy verleiding en sy slaggate gaan die bose kringloop net aan en aan. Wat word van hierdie mense? Wat van hulle saligheid? Hulle bly bloed gewaste en Gees vervulde kinders van God.

Van hulle is gelukkig en tevrede met hulle omstandighede. Hulle geniet dit. Hierdie tweedehandse leefwyse is vir hulle heeltemal voldoende. Daar is uitdagings maar vir hulle bly dit die moeite werd. Daar is egter ook die hartseer verhaal van hulle wat na meer smag maar nie bereid is om in die geloof uit te stap na vryheid nie. Hulle smag na Jesus. Hulle smag na diepte. Hulle smag na intiemheid met Hom. Hulle smag na vryheid. Omstandighede maak dit egter onmoontlik. Die struktuur en die leefwyse van die institusionele en georganiseerde godsdiens maak dit baie moeilik. Hulle probeer om binne die struktuur en binne die omstandighede aanpassings te maak maar al hulle pogings lei tot frustrasie. Hulle vorder nie. Niks wil werk nie. Hulle bly die onderspit delf. Hulle bly onvervuld. Die grootste teleurstelling is die liefdes ervaring met Jesus. Hulle ervaar nie meer daardie opwinding van hulle eerste liefde nie. Hulle het uitmekaargedryf. Hulle dink hulle is tog wel lief vir Christus. Dit voel nie altyd so nie maar dit moet tog wees? Hulle weet Hy is lief vir hulle; die Bybel sê mos so. Dit voel nie altyd so nie maar dit is tog so?

Na al hierdie aktiwiteite en bedienings is daar gewoonlik baie teleurstelling. Wanneer ons aan die einde van ons pad kom, dan word die vraag gevra: Waar was Jesus dan in alles? Wat het fout gegaan? Die antwoord op hierdie vraag is altyd die volgende: Godsdiens het Jesus vervang. Iewers in die proses het ons stelselmatig, sonder dat ons dit agtergekom het, ons verhouding met Jesus vervang met die metodes en voorskrifte van die godsdiens. Dit werk altyd so met almal. Ons is almal skuldig. Die eie Ek staan iewers langs die pad op. Hy verhef homself. Ons eie talente en persoonlikhede kry altyd die oorhand. Trots, hoogmoed en die begeerte om vir Jesus te presteer dryf ons om tot handeling oor te gaan. Dit is dan wanneer ons met siel aktiwiteite begin en nie meer die Jesus in ons bedien nie.

Ware bediening kom nét uit Jesus. Ons bedien Jesus. Ons bedien nie ’n teorie of ’n oortuiging of ’n idee nie. Hy is die begin van alle bediening. Hy is die oorsprong en die wortel van ware Gees bediening. Ware bediening is die “uitvloei” van die inwonende Christus. Wat is die fondament van ware bediening? Hoe bedien ons Jesus? Jannie van Zyl sê die volgende daaroor:

n Intieme liefdesverhouding met die Persoon Jesus is die vertrekpunt, die middelpunt en die eindpunt van ons Christelike lewe…Godsdienstige aktiwiteite of talente en vermoëns, godsdienstig aangewend sal nooit, Let wel NOOIT die wêreld vir Jesus Christus wen nie. Ons het nie meer godsdienstige geletterdes met ambisie in Suid-Afrika nodig nie. Ons het mense in wie God Jesus Christus openbaar nodig. Hoekom? Slegs nadat God Hom in jou openbaar het, kan jy Hóm verkondig en bedien. Gees aktiwiteit is die vrystelling van die inwonende Christus. Dit alleen is bediening…Hy word al meer in mense wat bedien word en die Gees bedienaar al minder…Vloei Christus as bediening uit jou as Gees aktiewe persoon word mense met Hom vervul…Gees bediening is Christus verheffend. Dit is Christus sentries…Godsdienstige mense bedien ’n formule godsdiens of ’n resepte teologie. Hulle is altyd met een of ander plan van “hoe om te” besig…Sielskrag motiveer mense tot aktiwiteit, Geeskrag motiveer mense tot intiemheid. Siel aktiwiteit kom sodra jy ’n plan het, Gees aktiwiteit kom sodra jy ’n openbaring van Christus het…Die byeenkomste van die heiliges is Christus sentries, die gemeenskap van die heiliges is Christus sentries, ware bediening is Christus sentries. Ware bediening vloei uit die Christus in ons.

– Jannie van Zyl

Dit is waar ons begin. Gemeenskap met Hom vorm die basis van ons gemeenskap met mekaar. In die ware outentieke Nuwe-Testamentiese gemeente word Hy in ons geopenbaar deur middel van ’n korporatiewe Jesus belewenis. Dit is nie sommer net nog ’n teorie wat ons prakties aanwend nie. Dit is ’n daadwerklike groepering om Jesus. Ons het net een begeerte en dit is om sy aangesig te soek. Ons begeer Hom alleen. Ons begeerte is net na Hom. Ons “plug” net by Hom in. Hy is die stok en ons die lote. Ons probeer niks doen behalwe uit Hom nie. Inteendeel, ons begeerte is dat Hy so groot in ons word dat net Hy in ons leef. Hy word meer en ons minder. Ek het nie meer idees en planne nie. Hy leef sy wil in ons en deur ons. Ek het geen eie begeertes en ambisie meer nie. Ek doen nie meer nie.

Wanneer weet ons dat Hy vir ons belangriker as ons geestelike stokperdjies geword het? Wanneer iemand jou gunsteling leerstelling uitmekaartrek en stukkend slaan en jy staar na die persoon met net die liefde van God. Jy ignoreer die regstellende en verdedigende argumente en word bewus van die lewende Jesus in jou wat ’n heel ander behoefte by die persoon op die hart dra. Jy voel hoe Jesus in jou die seer in die persoon se lewe deur jou bedien. In stede van jou gunsteling leerstelling te verdedig bedien jy Jesus Christus en die persoon word gestig en bemoedig. Daar vind ware bediening plaas. Jy kyk nie met veroordelende oë na die persoon nie. Jy kyk na hom met liefde. Jy laat toe dat Jesus in jou vir mense wees wat hulle nodig het. Jy verdedig niks nie. Dit is in elk geval nie jou leerstellings nie. Dit behoort aan God. Jy breek nie af nie. Jy bring nie verleentheid nie. Jy bring lewe. Verhoudings het vir jou belangriker as oortuigings geword. Dit wat die persoon nodig het is Jesus. Jy gee vir hom wat hy nodig het, nie wat jy graag wíl gee nie.

In so ’n mens, die mens wat soos ’n koringkorrel in homself gesterf het, kan Christus weer die aarde bewandel soos Hy in die vlees gedoen het. Hy kan weer mense bedien, hulle genees, die goeie nuus van die koninkryk van God verkondig, die Vader openbaar en verheerlik. Hy doen dit weer maar hierdie keer ín ons en deur ons.

Joh. 12:24

Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf dan dra dit veel vrug.

Ons praat met Hom, ons beleef Hom, ons lê met ons koppe op sy bors. Individueel maar ook korporatief soek ons Jesus met net een doel; om Hom waarlik te ken en waarlik te ervaar as ons Bruidegom. Om in eenheid met Hom te leef. Hy in ons en ons in Hom.

Ons leef in ’n totale afhanklikheid van Hom alleen. Ons maak van geen ander metodes of planne gebruik nie. Ons maak nie ons eie planne nie. Ons gryp nie na geleenthede as ons paniekerig raak nie. Ons stry die goeie stryd van die geloof en ons wag op Hom. Hy is ons lewens bron. Hy is ons begin en ons einde. Ons beleef sy God wees en sy Bruidegom wees deur middel van ’n persoonlike verhouding met Hom. Ons kennis van Hom is persoonlike ervarings met Hom. Dit is persoonlike openbarings van Hom aan ons. Ons motiveer mekaar om net Hom te ken.

Ef. 4:13

Totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ’n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus.

Ef. 3:17 – 19

Sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.

Christus woon in ons harte. Ons is in Hom gegrond. Ons wortels is in Hom. Ons begryp sy liefde want ons ken Hom. Dit oortref verstand kennis. Omdat ons Hóm ken word ons vervul tot al die volheid van God. Ons móét Hom ken. Sonder kennis van Jesus is daar nie vir ons oorwinning en ’n volheid lewe nie. Kennis van Christus bring lewe. Kennis van Christus bring groei. Dit is egter nie Skrif kennis nie. Dit is nie verstand kennis nie. Dit is Persoons kennis. Daarom word ons in Hom onderrig. Ons beleef Hom saam met al die heiliges. Dit is nie ’n individuele belewenis nie.

Ef. 4:21

As julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is

Kol 1:28

Hom verkondig ons terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig

2 Kor. 2:2

Want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus en Hom as gekruisigde.

Ons het “kennis” van Jesus nodig. Nie boekkennis nie maar openbaringskennis. Wanneer ons Jesus ken dan ken ons alles.

Kol 3:10 – 11

En julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper (Jesus), waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Scith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.

Hy is alles in almal. Ons hele wese soek na Jesus en ons verloën alle ander liefdes: Fil. 3:8

Ja, waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry.

Alles is drek in vergelyking met Jesus Christus. As ons alles prysgee dan kry ons Christus as wins. Die uitnemendheid van die kennis van Christus is ver bo enigiets anders. In Hom is onnaspeurlike rykdom.

Ons het interaksie met Hom op gees vlak. Daar vind voortdurende bevrugting plaas. Die Christus saad bring lewe. Dit maak ons swanger en ons dra vrug. Ons het nie boekkennis van Hom nie. Ons het nie hoorsê kennis van Hom nie. Ons ervaar Goddelike openbaringskennis deur middel van die Jesus saad wat in ons geplant is. Hy stort sy saad in ons wanneer ons gemeenskap met Hom het. Dit is intiem wees met Christus. Ons ontvang hierdie saad in oorgawe deur middel van ons liefdes lewe met Hom. Wat bring hierdie saad voort? Wat groei wanneer saad geplant word? Soort bring soot voort. Saad bring dit voort waarvan dit kom. ’n Appel saad bring ’n appelboom voort. Dit bring dit voort wat dit is. Jesus saad in jou bring Jesus voort in jou. Ons is swanger met Jesus. Hoe het ons swanger geword? Jesus stort sy saad in ons. Die Jesus saad groei in ons en Hý word in ons gevestig. Hy lewe in ons en Hy lewe deur ons. In ons groei Christus op tot Hy ons in sy volheid vervul.

Ons leef, ons beweeg en ons bestaan in Hom. Ons is totaal bedwelm deur Hom. Ons praat Jesus, lag Jesus, leef Jesus, slaap Jesus. Ons gees borrel in ons. As iemand aan ons stamp dan kom Jesus uit. Ons smag na die totale verheerliking van Hom in ons in al sy glorie en heerlikheid. Wanneer mense na ons kyk sien hulle net Jesus. Wanneer ons na mekaar kyk sien ons net Jesus. Hy brand in ons harte. Christenskap is vir ons ’n vreugde. Ons geniet dit. Daar is niks in ons Christenskap waarna ons opsien of waarvan ons wegskram nie. Ons is vervuld. Ons ervaar sy liefde. Ons leef nie op gevoel nie maar tog vóél ons geliefd. Ons ervaar emosie. Daar is by ons geen twyfel nie. Sy liefde dring ons. Dit brand in ons harte. Dit wek ons op. Dit laat ons lewe. Geloof spring in ons op. Liefde spring in ons op. Hoop spring in ons op. Julle sal die waarheid ken en die waarheid sal julle vrymaak. Ons baljaar in sy teenwoordigheid. Ons hou fees. Ons byeenkomste is feesvieringe. Familie feesvieringe. Daar is blydskap, vreugde en opwinding. Hy is ’n fees in ons. Ons baai in sy liefde.

Hoe maklik kan die godsdiens ons nie insluk nie? Hoe maklik verblind dit ons nie? Dit trek ons stadig in. Dit begin stelselmatig ons Jesus in ’n waas van rituele en metodes toedraai tot ons Hom nie meer sien nie. Ons raak gewoond daaraan. Hy “verdof” in ons verhouding maar in ons siel aktiwiteite hou ons sy Beeld lewendig. Ons doen dit vir Hom. Dit gaan alles oor Hom. Ons doen opofferings vir Hom. Ons “werk” vir Hom. En so word ons getoor om ons Bruidegom te verruil vir die eer, respek, applous en die goedkeuring van die godsdiens. Ons werk en leef eintlik vir die Godsdiens. Die godsdiens praat Jesus en bely Jesus maar in werklikheid is die ervaring oppervlakkig. Dit wat gepraat word en dit wat bely word, is nie dit wat werklik tot stand kom nie. Ons kom dit self nie agter nie maar eventueel weet ons dat ons liefde vir Hom afgekoel het. Ons kan dit nie ontken nie. Ons ervaar ook nie meer sy liefde vir ons so sterk nie omdat ons nie meer ’n verhouding met Hom het nie. Ons dink ons het maar eintlik het ons nie meer nie. Ons het ons eerste liefde verloor. Ons is nie geskei nie maar ons deel nie meer die liefdes bed nie. Daar is nie meer liefdes passie nie. Ons deel nie meer die liefdes band en die liefdes vuur van verloofdes nie. Ons is ou getroudes. Mense ervaar jou as morbied of depressief. Jy lyk onvriendelik. Jy lyk alles behalwe ’n vreugdevolle, uitbundige, verliefde bruid.

Die godsdiens is baie subtiel. Dit verblind ons. Dit betower ons. Die persoon wat in die net van godsdiens vasgevang is verstaan nie die doel van hierdie skrywe nie. Die stellings hier gemaak is vir hom Grieks. Hy sien geen verskil tussen die twee onderwerpe daarvan nie. Die een lyk vir hom nes die ander. Jesus “plus” bly vir hom maar net Jesus. Die klemverskuiwing maak vir hom geen verskil nie. Om hierdie rede bly hulle vasgevang in die net van die godsdiens. As God nie Jesus alleen in hom openbaar nie vind daar geen verandering in hom plaas nie. Hy kan niks anders insien nie. Dit is hoekom die godsdiens so gevaarlik is. Dit lyk goed maar die uiteinde daarvan is die dood. Hulle wat in die godsdiens vasgevang is is steeds bloed gewaste en Gees vervulde kinders van God maar hulle ly wel geestelike skade. Waar lei hulle skade in hul geestelike lewe? Die dood is in hulle verhouding met Christus. Hy leef nie in hulle nie. Hy is daar maar Hy “leef” nie. Hierdie is die naakte waarheid en dit het ’n verskriklike negatiewe invloed en negatiewe gevolge op hul geestelike lewe.

Die godsdiens kan Jesus nie reproduseer nie. Dit is soos wanneer die son op die maan skyn. Wanneer ons snags daarna kyk lyk dit baie keer vir ons so mooi. Veral wanneer dit volmaan is. Die maan het egter nie lig in haarself nie. Sy reflekteer net die lig van die son. Dit lyk soos lig maar is net ’n refleksie. Die godsdiens doen presies dieselfde. Dit reflekteer Jesus. Dit kan Jesus nie as ’n inherente “lig” in die kerk reproduseer nie. Die godsdiens praat van Jesus. Dit behandel Jesus. Die godsdiens gaan oor Jesus, natuurlik allerhande ander goed ook. Die kinders van God in die godsdienstige kerk, in hul leefwyse en in hulle handelinge, reflekteer Jesus aan hierdie wêreld en dit is vir hulle genoeg. In the religious church Christ only “shines” on His church, He is not “alive” in her.

In die verhoudings kerk leef Jesus in die kerk en Hy leef deur die kerk. Hyself is gereproduseer in hulle. Hy is die seun van God. Ons is die seuns van God. Ons is Jesus se broers wat net soos Hy ook uit die Gees van God gebore is. Nuwe skepsels, lede van hierdie nuwe spesie wat “seuns van God” genoem word. Die Seun “leef” aktief in die seuns. Dit maak hulle seuns van God. Niks anders nie. Hulle is nie meer kinders van God nie; hulle is volwasse seuns van God soos Jesus die Seun van God is. Die eerste onder baie broeders. Wanneer die Seun in sy volheid in en deur die seuns lewe, dan word die hele skepping bevry:

Romeine 8:19

Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders (seuns) van God

Die godsdiens produseer metodes. Die godsdiens sê: Ek het hierdie stappe gevolg. As jy dieselfde stappe in jou lewe toepas dan behoort jy dieselfde resultate te kry. Ons reproduseer die resultate. Resultate in my reproduseer resultate in jou. Die metode sny ’n intieme verhouding met Jesus uit. Dit maak dit oorbodig. Ek hoef nie net na Jesus te kyk nie, want die stappe teologie werk baie goed. Dit is logies. Ek doen wat jy doen. Daarom is die godsdiens deurtrek met godsdienstige rituele. Dit is ’n “toepassings” godsdiens. Ons leer mekaar goed wat ons kan toepas in ons lewens. As dit vir die een gewerk het, sal dit vir die ander een ook werk. Dit moet net reg toegepas word. As dit by hierdie gemeente gewerk het, moet dit by ander gemeente ook werk. Dit word oorgedra van die een na die ander, van een geslag na ’n ander geslag. Daarom word dit die oorlewering van mense genoem. Dit is tradisie. Die godsdienstige persoon of die godsdienstige gemeente sien niks fout met die metodiek nie. Dit is vir hulle ontwikkeling. Dit is goeie metodes wat werk.

Daar is tog mense binne die institusionele kerk wat bewus is van die “Jesus in ons” belewenis. Hulle het ’n openbaring van hierdie waarheid ontvang. Tog is hulle baie huiwerig om die institusionele kerk te verlaat. Hulle verkies om die twee geloof belewenisse te vermeng. Dan is hulle in die Gees en dan weer in die vlees. In sy privaat hoedanigheid probeer hy Jesus bedien maar in sy amptelike hoedanigheid het hy geen keuse nie. Daar moet hy by die reëls, die konstitusie en by die struktuur van die denominasie waarin hy is bly. Hulle is soos Jonatan. Hy was baie keer in twee geskeur in sy verhouding met sy pa en met David. Hy was lief vir David maar ook vir sy pa. Hy was lojaal teenoor David maar ook teenoor sy pa. Hy het nie een van die twee benadeel of skade gebring nie. Jonatan het egter by Saul gebly. Hy is saam met hom oorlog toe en hy het saam met hom in die geveg omgekom. Hoekom moes Jonatan sneuwel? Hoekom moet die kinders van God in hulle geloof lewe sneuwel? Hoekom verlaat hulle nie hierdie georganiseerde lewenstyl en geloof belewenis nie? Hoekom klou hulle daaraan vas? Ongeloof? Standvastigheid? Inkomste? Vrees? Onkunde? Gemaksone?

Mense wat in ’n liefdesverhouding met Jesus lewe wil met die metodiek niks te doen hê nie. Hulle kyk op na Hom vir leiding. Hy is hulle enigste bron. Hulle soek ’n vars woord vir vandag. Môre soek hulle ’n nuwe woord. Hulle stoor nie manna op wat verrot nie. Hulle leef van dag tot dag ’n opwindende liefdes lewe geanker in verhouding, vertroue, genade en geloof. Hulle metode is ’n Persoon. Hulle metode is die lewe van daardie Persoon. Hulle metode is om daardie Persoon nou toe te laat om nou in hulle te doen, te sê, te lewe soos Hy in hulle wil doen, sê en lewe. Die metode skryf voor. Die Persoon lewe.

Die Jesus beeltenis in ons

Een van die mooiste kenmerke van die ware Bybel gefundeerde huiskerk is die eenvoud van ’n ongekompliseerde liefdesverhouding van die familie van God. Hierdie liefdesverhouding vind uiting in die leefwyse van die huiskerk gemeenskap. Paulus het nie kerke geplant nie. Hy het gemeenskappe geplant. Die kerk is dus nie ’n gebou nie, ook nie ’n byeenkoms nie. Die kerk is die gemeenskap van die heiliges. Daar waar twee of drie in my Naam vergader, daar sal Ek met hulle wees; of hulle nou interaksie het in die amptelike weeklikse byeenkoms, of ’n paar van hulle net ’n vinnige saamwees gereël het en of twee of drie toevallig in mekaar vasloop in die dorp, die beginsels bly presies dieselfde.

Die drie hoof oogmerke in die huiskerk vir die gemeentelede is die volgende:

Om die “nuwe” dissipel van God met Jesus te verbind deur hom te leer hoe om sy verhouding met Jesus te verdiep.

Om met God saam te werk om die Beeltenis van Jesus Christus in elke gelowige te vestig.

Om met God saam te werk deur godsdienstige aktiwiteite te vervang met Gods aktiwiteite.

Bykomende praktiese oogmerke is die volgende:

Die onderrigting van dissipels word altyd in Christus gedoen. Die doel is altyd om die dieptes in Hom te ontdek en daarom word die suiwer woord van God geleer en hoe om dit in Christus uit te leef.

Om elke gemeentelid te leer dat alle fasette van die gedeelde gemeenskapslewe oor verhoudings gaan. Die gemeenskaplike verhouding met Jesus Christus en ook die gemeenskaplike verhouding met mekaar is eerste prioriteit.

Die waarde van elke kind van God as gelyke boetie en sussie in die familie van God word beklemtoon. ’n Kultuur van vertroue in die vermoë van elke mens word gevestig. Die inwonende Jesus as die bedienaar in elke mens word erken en gepromoveer. Mense moet geleer word, aangemoedig word en gehelp word om deur middel van die inwonende Jesus te leef en te bedien. Hierdie aspek maak almal gelyke deelnemende en funksionerende volwasse seuns van God. Die waarde van elke gemeentelid se menslikheid, persoonlikheid, talente, potensiaal, vaardighede en begeertes word erken en aanvaar.

Gemeentelede word geleer om mekaar te bedien en te dien deur die liefdesdiens van Christus in hulle. Elkeen word geleer om op geen ander salwing te reageer as net die salwing van Jesus in hulle nie. Daar word nie allerhande aktiwiteite met betrekking tot bediening gereël nie. Die inwonende Jesus “aktiveer” alle bediening.

Gemeentelede word geleer om interafhanklik te leef as ’n familie. Die familie van God leef nooit onafhanklik van mekaar nie. Almal leef en funksioneer saam as vrywillige en interafhanklike bedienaars in die huisgesin van God. Individualisme word nie gepromoveer nie en die intiemheid van die natuurlike gesin word gepromoveer.

Almal sien toe dat daar altyd ’n kontrole lose en ’n beheer lose omgewing gehandhaaf word. Dissipels word geleer om net deur ’n inherente Jesus lewe beheer te word. Die gemeente leer om net deur ’n inherente Jesus lewe beheer te word. Die gemeenskap leer om net deur ’n inherente Jesus lewe beheer te word. Jesus in ons beheer alle gemeente aktiwiteite. Christus beheer sy liggaam van binne af.

Dissipels word geleer om na Jesus te kyk vir wysheid en leiding. Hulle word geleer om die stem van Christus te soek en te herken. Daar word nie deur mense rigting aangedui of pas aangegee nie. Mense se lewens word nie vir hulle gereël nie.

Hoe doen hulle dit?

Die gemeente gaan in ’n rus in deur net om Jesus te groepeer. Hulle vind hulle rus in Christus. Hulle rus van alle ander goed. Daar in sy teenwoordigheid vind hulle vryheid. Daar is geen druk op die gelowiges nie. Hy hoef geen godsdienstige aktiwiteite uit te voer nie. In hul handel en wandel is hulle net gefokus op Jesus. Niemand eis niks van hulle nie. Daar is geen druk van buiteaf nie. Jy hoef niks te doen om gered te word nie. Jy is klaar gered. Daar is niks meer wat jy daaraan kan of moet doen nie. Jy hoef niks te doen om aanvaar te word nie. Jy is reeds aanvaar toe jy Jesus as jou verlosser aangeneem en begin volg het. Jy hoef niks te doen om heilig te word nie. Jy is klaar geheilig deur die bloed van Jesus. Jy hoef niks te doen om heiliger te word nie. “Heiliger word” het niks met “doen” te maak nie. Dit het alles met ’n “Persoon” te doen. Heiligmaking is om daardie Persoon vrye teëls in jou lewe te gee. Jy hoef geen bedienings take uit te voer behalwe deur net Jesus in jou te bedien wanneer Hy wil bedien. Bediening is dus altyd vrywillig.

As individu leer elkeen om sy siel te onderwerp aan die Heilige Gees deur hulle denke te vernuwe. Elkeen werk in vrees en bewing hulle eie heil uit. Almal bemoedig, stig mekaar en help mekaar. Hulle leef egter nie as individue ’n individuele lewe nie. Hulle leef saam die gedeelde gemeenskapslewe in Christus.

Die godsdiens gaan jou egter op jou skouer klop en vra: “Wat van die ongeredde massa daar buite? Wat van diegene wat vanaand honger gaan slaap? Moet jy nie ’n plan maak nie? Wat gaan jy doen om ’n beter lewe te lei? Jy is nie so skoon en rein soos wat jy dink nie! Daar kort iets. Jy “doen” niks vir God nie. Dink jy dit is reg so”? Dit is dan wat jy die godsdiens van jou skouer af moet klap. Hy wil van jou ’n slaaf maak. As jy op hierdie druk van buite reageer dan werk die vlees. Dit is dan nie Jesus wat bedien nie maar jy. Die godsdiens is nooit tevrede met net genade of net Jesus nie. Die godsdiens soek “doen”. Die godsdiens soek “werk”. Die godsdiens wil jou aanspoor tot aksie. Vlees bediening kom van buiteaf.

Daar ís bediening. Natuurlik! Christus in jou, as jy Hom toelaat, wil jou leer dat bediening van binne af kom. Jesus ín jou bedien. Hierdie bediening is nie gegrond op skuldgevoelens en druk van buite af nie. Hierdie bediening is Gees bediening gebore in die hart van Jesus Christus ín jou. Dit het sy oorsprong in Hom en Hý voer dit uit; in jou en deur jou. Jy word sy hande en sy voete. Jy word die kanaal waardeur Hy werk. Dit is nie jy wat die werk doen nie, dit is Hy. Jou fokus is nie op “bediening” nie; jou fokus is Jesus. Jy bedien nie “iets” nie; jy bedien Jesus. Jesus is altyd die oplossing vir alle probleme. Jesus is altyd die antwoord op alle vrae in alle situasies, omstandighede en krisisse. Jy gee vir die wêreld Jesus en Jesus alleen. Jy voeg niks by nie. Jesus Homself reik uit na die wêreld vanuit jou. Jesus praat deur jou. Jesus raak hierdie wêreld aan deur jou.

Jy kyk nie meer na omstandighede nie. Jy laat nie meer toe dat mense jou voorskryf nie. Jy laat nie meer toe dat omstandighede jou voorskryf nie. Jy laat nie meer toe dat behoeftes jou voorskryf nie. Jou fokus is nie dit wat jy hoor, sien en voel nie. Jy sien deur die Jesus oë in jou. Jy hoor met die Jesus ore in jou. Jy voel met die Jesus hart in jou. Jy word nie beweeg deur omstandighede nie. Jy word beweeg deur die Jesus lewe in jou. Hy is oral saam met jou want Hy is in jou. Hy beleef hierdie wêreld met al sy uitdagings saam met jou want Hy is in jou. Niks ontsnap sy oë nie. Niks gaan by Hom verby nie. Hy sien wat jy sien. Hy beleef wat jy beleef in jou. Hy sien en voel die onstuimigheid in jou hart wanneer Hy saam met jou dinge aanskou en beleef. Hy begeef of verlaat jou nooit nie, want Hy is in jou. Hy beleef elke gedagte wat jy bedink. Hy beleef elke emosie wat jy ervaar. As jy Hom toelaat leef Hy jou lewe vir jou in jou. Ons leef die Jesus lewe vanuit Hom in ons. Ons is nie vir ’n breukdeel van ’n sekonde alleen nie. Ons is nie vir ’n breukdeel van ’n sekonde van Jesus geskei nie.

Ons oë is net op Hom gerig. Al is Hy ín ons aanbid ons Hom nie in ons nie. Ons aanbid Hom daar waar Hy op die hoogste piek van die heelal sy ewige posisie as Seun van God op die troon van God beklee, die Koning van die konings, ons meester en ons God.

Hoekom aanbid ons Hom so diep? Hoekom is ons liefdesverhouding met Hom so diep? Hoekom so vurig? Want God die Vader het die volheid van sy wese in Christus gestort. Die volheid van ons verlossing, bestaansreg, menswees en heerlikheid is in Jesus Christus. In Hom is lewe. In Hom deur Hom en tot Hom is alle dinge geskape. Die lewe is nie opstaan, werk, vakansie hou, plesier, slaap, eet, “popcorn” en fliek nie. Die lewe is nie die mooi natuurskoon, musiek, kleure en geure nie. Die lewe ís Jesus Christus. Swem, baljaar, duik, haal asem, leef en lag in Christus en jy leef waarlik. Verlustig jou in Hom en Hy sal jou gee die begeertes van jou hart. Ja, Hy gee vir ons al hierdie lekker dinge om te geniet maar dit is nie lewe nie. Hý is lewe. Hy is die volheid lewe.

God het alles wat bestaan in Hom bymekaargebring. Hy is die Alfa en die Omega van alles. As jy Christus het dan het jy alles. Alles is in Christus, buite Hom is daar niks nie. Dit wat ons buite Hom beleef bring teëspoed en ellende. Alles buite Hom bring dood. Die godsdiens is buite Christus. As jy Jesus leef, dan leef Hy in en deur jou. As jy godsdiens leef, dan leef jy iets (goeters), en dan leef hierdie goeters in jou. Wat die hart van vol is loop die mond van oor. Wat kom uit jou mond uit? Jesus of moenie, raak nie aan nie, slawe spraak, slawe doen, slawe werk. As Jesus in jou leef dan sterf jy vir die wet en vir die wettiese goedjies wat gedoen moet word. As net Jesus in jou leef dan sterf die eie Ek. Dan leef jy nie meer nie.

Elkeen moet by die plek kom waar ons soos Paulus sê:

Gal 2:20

Ek is met Christus gekruisig en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my

Dit is die fokus van die ware Bybel gefundeerde huiskerk. Dit is almal se begeerte. Almal se fokus. Almal help mekaar om net hierdie één doel te bereik. Alle bemoediging in die huiskerk wys na Jesus. Alle stigting wys na Jesus. Gebede wys na Jesus. Lering wys na Jesus. Berading wys na Jesus. Probleemoplossing wys na Jesus. Advies in ongewenste situasies wys na Jesus. Psalms sing wys na Jesus, eerbetoning wys na Jesus. Jesus is ons verlosser, redder, beskermer, geneesheer en alles wat ons nodig het in alles. Daar is geen ander oplossing of geen ander weg nie. Ons luister nie na die “tien punte” oplossing teologie van Piet hier om die hoek nie. Ons luister nie na die “sielkundige waarhede” teologie van die professionele bedienaar nie. Ons onderwerp ons nie aan teoretiese “skoling” nie. Hierdie goed is nie ons bron nie. Dit lyk goed en klink goed maar die uiteinde daarvan is die dood.

Die godsdiens het baie oplossings. Die godsdiens bied baie alternatiewe. Daar is ander metodes wat ook werk. Daar is maniere en metodes wat goed uitgewerk is en die toets van die tyd deurstaan het. Teologiese berading bied professionele alternatiewe vir omtrent alle probleme wat Christene die hoof moet bied. Ons hoef nie net op God te wag nie. Ons kán onsself help. Inteendeel, die godsdiens skryf hierdie metodes voor as Goddelike metodes. Die godsdiens akkommodeer ook nuwe metodes. Inteendeel dit promoveer nog metodes en beter metodes. Dit is vir die godsdiens “groei”. Dit is ontwikkeling.

Dit vat ons egter op ’n syspoor. Die godsdiens split altyd weg van Jesus af. Wanneer die godsdiens werk vind daar onmiddellik verwydering plaas. Daar is onmiddellik ’n skeiding. Dit kan nie saam met Jesus bestaan nie. Dit verdra Hom as ’n parallelle ervaring maar die godsdiens dikteer sy eie vakgebied en grondgebied. Jesus het geen plek daar nie. Daarom is godsdiens die gees van die Antichris. Die Antichris is ’n alternatief vir Christus. Die godsdiens soek altyd iets in die plek van Christus. Daarom is dit afgodery.

Daar waar die huiskerk gemeente bymekaarkom daar openbaar hulle Jesus aan mekaar. Daar waar hulle saam kuier openbaar hulle Jesus aan mekaar. Daar waar hulle probleme of situasies teëkom, daar vind hulle die oplossing saam in Christus. Jesus is aktief betrokke in elke situasie. Hy beleef elke situasie saam met hulle. Hulle ervaar Hom ín elke situasie. Hy ervaar die teëspoed saam met hulle. Al gaan ons ook in ’n dal van doodskaduwee, ons sal nie vrees nie, want Hy is met ons. Hy as God, ons as kinders van God. Hy as Heer en Meester oor alles, ons in afhanklikheid van Hom. Hy laat ons nooit in die steek nie. Met elke beproewing is daar altyd die uitkoms.

Kol 1:27 en 28

Aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid. Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel.

Ons het geen ander hoop op heerlikheid nie. Dit is net Christus. Dit is Christus onder julle. Dit is die misterie wat vir soveel eeue verborge was maar nou openbaar word.

2 Kor. 2:14 en15

Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei. Want ons is ’n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word…

Hy is in ons en omdat ons Hóm bedien versprei ons sy aangename geur. Sy geur kom vanuit Hom in ons. Die godsdiens stink. Dit het ’n doodsreuk want godsdiens is dood.

2 Kor. 4:7

Maar ons het hierdie skat in erde kruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.

Wat is hierdie skat, hierdie verborgenheid? Dit is Jesus Christus in ons. Wat is ons? Erdekruike. Die voortreflikheid kom dus nie uit ons nie. Dit kom uit God in ons, Jesus Christus, ons hoop op heerlikheid. Dit is nie ons wat spreek nie; dit is Christus in ons. Dit is nie ons wat bedien nie; dit is Christus in ons. Kyk hoe mooi sê 1 Pet. 4:11 dit:

As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus

Wie het die Vader op aarde kom verheerlik? Jesus Christus. Wie verheerlik die Vader vandag? Jesus Christus in ons. Ons kan God nie uit onsself behaag of verheerlik nie. Ons kan dit net uit Jesus doen.

Elke huiskerk gemeente weet dat hulle nooit die oë van Jesus moet afneem nie (Heb. 12:2 Die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en die Voleinder van die geloof). Dit kan maklik gebeur en dit is altyd ’n ramp. Net soos in die institusionele kerk is daar in die huiskerk dieselfde gevaar van godsdienstige verleiding. Dit maak nie saak waar jy jou bevind of in watse omstandighede jy jou bevind nie, die versoeking om dit waarmee jy besig is te vergodsdiens is altyd daar. Die versoeking om iets uit jouself te doen is altyd daar. Die huiskerk struktuur, al is dit Bybel gefundeerd, kan jou nie beskerm daarteen nie. Dit waarborg geen sukses nie. Reeds in Paulus se dae het mense dit wat Jesus en die apostels begin het met godsdienstige aktiwiteite en oortuigings besoedel. Die struktuur was reg, die motiewe was dalk reg maar tog het die godsdiens die oë van die kerk van Jesus afgedraai. Die man of vrou wat die huiskerk beginsels vasgryp as dié metode en dáármee hardloop gaan ontnugter word. Ja, dit beklemtoon die meer Bybel gefundeerde leefwyse van die vroeë kerk maar in werklikheid is daar geen krag daarin nie. God is nie in metodes nie. God is in ’n Persoon.

Die huiskerk beginsels kan nie slaafs gevolg word in ’n poging om God te behaag nie. Die fokus kan nie op die feite en teoretiese beginsels van hierdie skrywe geplaas word nie. Die fokus bly Jesus. Om hierdie rede het ek eers die “beginsels” van die ware Bybel gefundeerde huiskerk behandel. Dit bly egter net ’n hulpmiddel. Dit is ’n raamwerk. Dit is ’n struktuur. Dit is ’n Godgegewe omgewing waarin die kind van God wandel. Dit is nie die inhoud nie. Dit het geen lewe nie. Dit is die bord maar nie die voedsel nie. Dit is die liggaam maar nie die gees nie. Dit is die voertuig maar nie die passasiers nie. Dit bly net ’n vervoermiddel. Dit kan nie omhels word as die alfa en die omega van ons Christenskap nie. Daarom sluit ek hierdie skrywe af met die fokus op Jesus Christus. Hý is die Alfa en Omega.

Kinders van God kan die institusionele kerk verlaat, ’n huiskerk lidmaat word, en steeds niks daardeur baat nie. Hy kan sy godsdienstige leefwyse net so in die huiskerk kom voortsit. Die gawes van die Gees wat deur hom manifesteer kan steeds hoogmoed in hom wees. Dit kan steeds vir hom te belangrik wees. Dit kan steeds sy “bediening” wees, en as dit sy bediening is dan is dit nie meer ’n Jesus bediening nie. Ons bedien nie die gawes van die Gees nie. Ons bedien Jesus Christus. Ons het genoem dat die gawes van die Gees een van die pilare is waarop die huiskerk gemeente staan. Ons kan egter nie agter die gawes van die Gees aanhardloop nie. Ons soek nie die gawes nie. Nee, ons soek die Gewer van die gawes. Ons omhels Jesus. Die inwonende Jesus Christus in ons ís die gawes. As ons Jesus het dan hét ons die gawes. Daarom het ek genoem dat ons nie die gawes forseer nie. Ons rus in Jesus en laat Hom toe om deur sy inwonende lewe in ons te manifesteer. Wanneer Hý manifesteer dan werk die gawes van die Gees.

Ons begin nie met georganiseerde evangelisasie nie. As ons dit doen dan werk die siel. Dan werk óns. Dan is dit bloot ’n siel aktiwiteit. Wanneer Jesus in ons die mense na Hom toe trek, dan evangeliseer Hy deur ons. Individuele evangelisasie en evangelisasie in ’n groepsverband funksioneer beide op die salwing van die Jesus in ons. Ja, Hy het sy opdragte gegee: “Gaan dan heen en maak dissipels van al die nasies. Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het”. Dit is ’n opdrag. As Jesus in ons ’n evangelisasie uitreiking organiseer dan is dit ’n God aktiwiteit. Dan is dit in die Gees.

Hy het egter gesê dat die dissipels in Jerusalem moes wag op die uitstorting van die Heilige Gees. Hulle kon hierdie opdragte van Jesus nie uitvoer sonder die Heilige Gees nie. Dit is die Heilige Gees wat die werk doen. Wanneer Jesus in ons bedien dan werk die Heilige Gees met ons saam. Wanneer óns bedien dan werk die Heilige Gees nie saam met ons nie omdat dit siel bediening is en eintlik afgodery is. Christus in ons doen steeds net wat Hy die Vader sien doen het. Hy sê steeds net wat die Vader sê. Dit is die Vader, in Jesus, in ons, wat die werk doen:

Joh. 14:10

Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke.

Hier sien ons dat Jesus steun op die Vader in Hom (wat in My bly). Hy probeer niks uit Homself doen nie. Die Vader lewe in Hom en die Vader doen die werke in Hom en deur Hom. Jesus laat toe dat die Vader in Hom en deur Hom lewe. Die Vader in Jesus is die ware bediening. Jesus maak dood seker dat Hy niks uit Homself doen nie:

Joh. 5:19

Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so.

Joh. 5:30

Ek kan uit Myself niks doen nie, soos Ek hoor, oordeel Ek; en My oordeel is regverdig, omdat Ek nie My wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het.

Hoekom doen Jesus niks uit Homself nie? Want Hy soek net die wil van die Vader wat Hom gestuur het. As ons ook net die wil van Jesus in ons soek dan sal ons niks uit onsself doen nie. Hierdie Skrif is die bewys dat Jesus niks uit Homself probeer doen het nie. Hoeveel te meer behoort ons niks uit onsself doen nie. Hier sien ons ook duidelik dat Jesus uit die Vader bedien. Ons lewe uit Jesus wat uit die Vader lewe. Die Vader lewe in Jesus wat weer in ons lewe. Ons kan niks sonder Jesus doen nie, want Hy is die stok en ons net die lote. Jesus kan niks sonder die Vader doen nie, want Hy is die ewige bron van ware lewe en ware bediening. Al het Vader, vir argumentsonthalwe en soos ons weet, sy hele wese in Jesus gestort na sy opstanding, dan glo ek beskou Jesus steeds sy Vader as die primêre bron van lewe en van Gees bediening. Al kan Hy dalk nou uit Homself bedien weet Hy steeds dat alle lewe en alle bediening uit die Vader kom. (Jak 1:17)

Jesus sê baie duidelik in Joh. 15:5 dat ons hierdie selfde gesindheid moet hê as wat Hy gehad het. Soos wat Hy uit die Vader bedien het, so moet ons uit Hom bedien. Soos wat Hy die Vader toegelaat het om in Hom te bedien, so moet ons Hom toelaat om in ons te bedien:

Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in Hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.

Jesus is die doper van die Heilige Gees. Jesus werk deur die Heilige Gees. Toe Hy die aarde fisies bewandel het, het Hy duiwels deur die Heilige Gees uitgedryf. Hy het siekes deur die Heilige Gees genees. Kyk wat sê Paulus in Heb. 13:20-21 aangaande Jesus se aardse bediening vandag:

Mag die God van die vrede, wat die groot Herder van die skape, naamlik onse Here Jesus Christus, deur die bloed van die ewige testament uit die dode teruggebring het, julle volmaak in elke goeie werk, om sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom deur Jesus Christus aan wie die heerlikheid toekom tot in alle ewigheid! Amen.

Wat sê hierdie Skrifgedeelte alles? Dit sê dat die Vader Jesus gebruik om in ons te werk wat behaaglik is voor Hom. Dit sê dat die Vader hierdie heerlikheid net aan Jesus gee tot in alle ewigheid. Niemand sal ooit goed genoeg wees on dit te doen nie. Hierdie Skrifgedeelte kom uit die brief van Paulus aan die Hebreërs. Paulus skryf hier van die opgestane Jesus. Die opgestane verheerlikte Jesus werk in ons die wil van die Vader. Vader is net tevrede met dit wat Jesus werk. Jesus werk net die wil van die Vader. Daarom is hierdie werk welbehaaglik voor God. Dit wat óns werk is siel aktiwiteite en nie vir Vader behaaglik nie. Dit is vandag dus steeds Jesus wat voortgaan met sy aardse bediening in ons. Sy aardse bediening het nooit opgehou nie. Daar is geen bediening buite die “Jesus” bediening nie. Wanneer ons uit die vlees bedien is dit dood. Daar is geen krag daarin nie. Dit is dus nie werklik bediening nie. Die nuwe geslag bedienaar stel nie daarin belang nie. Hy wil niks daarmee te doen hê nie.

Terwyl jy in oorgawe waarlik net Jesus begeer en Hom alleen as die enigste hoop op heerlikheid in jou, dan is die kanse vir siel aktiwiteite baie minder. Jou motiewe is reg. Dit is dan wanneer die toestand van rus in jou die vlees kruisig. Alles in jou het tot bedaring gekom. Daar is geen onstuimigheid nie. Daar is geen vleeslike prikkelings en vleeslike opgewondenheid in jou nie. Daar is geen vleeslike begeertes nie. Daar is nie vleeslike ambisies nie. Daar is net vrede en vreugde. ’n Rustige vrede. ’n Kalm vreugde. Dit is dan wanneer jy weet dat jy net ’n gehoorsame instrument in sy hand geword het.

Wanneer die eie Ek iets vir Jesus of iets vir jou medemens wil doen, dan herken jy dit as vlees en jy onderdruk die versoeking om uit jouself te bedien. Uit jouself bedien jy vlees. Al skreeu omstandighede in afwagting, al druk mense jou, al word die druk ondraaglik, al word jy tot die uiterste deur faktore van buite gedring om oor te gaan tot aksie, dan bedwing jy jouself. Jy weerstaan hierdie versoeking om te reageer want deur dit te weerstaan eer jy die lewende Jesus in jou. Laat Hom toe om te leef in jou want wanneer Hy leef, dan vind ware Gees bediening plaas wat berge versit en lewe bring.

Ware bediening vrees nie. Ware bediening kan wag. Ware bediening weet dat dit nooit te laat is nie. Ware bediening word nie deur slim “sales talk” gevang nie. Ware bediening is waarlik in beheer. Ware bediening bring geen verleentheid nie, want God kan nie verleentheid bring nie. Hy bring eer. Ware bediening bring oorwinning. Ware bediening breek die juk. Ware bediening is gesalfde bediening. Ware bediening is ’n Persoon; Jesus in jou. Ware bediening kom van binne af. Ware bediening ignoreer faktore van buite. Ware bediening is die salwing van Jesus in jou.

Hoewel Jesus deur die Heilige Gees werk is ons fokus nie op die Heilige Gees nie. God die Vader het vir Jesus die belofte van die Heilige Gees gegee. Hy is gestuur as ons Trooster. Hy is ons Helper. Hy lei ons in die waarheid. Hy sal die toekomstige dinge aan ons verkondig. Die Heilige Gees is naby ons. Hy is in ons en Hy ondersteun ons. Hy praat met ons. Hy lei ons. Tog is ons fokus nie op Hom nie. Hy vestig juis al die aandag op Jesus. Hy sal altyd Jesus verheerlik. Daarom is ons liefdesverhouding nie met die Heilige Gees nie. Ons fokus is nie die Heilige Gees nie. Ons fokus is Jesus, ons Hemelse Bruidegom. Ons fokus is ook nie die Vader nie. Ons praat met die Vader maar ons fokus is Jesus. Dit behaag Vader as ons vir Jesus lewe. Dit het Vader behaag dat in Jesus die ganse volheid sou woon en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen. En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.

Ek wil graag hierdie skrywe afsluit met ’n gedeelte uit Jannie van Zyl se boek, Isébel jag profete. Hierdie aanhaling is baie belangrik omdat so baie kinders van God hierdie aspek van ons lewens ignoreer. Jannie sê dat daar ’n primêre bediening is wat ons almal het. Dit word deur ons menswees gedefinieer:

Jou menswees definieer jou bediening. Jou menswees en jou bediening kan nie geskei word nie. As MAN is jou bediening die eggenoot, vader, broodwinner, die hoof van die vrou, die beeld en heerlikheid van God, werkgewer, werknemer, heerser. Jy is die een wat jou vrou moet liefhê soos Christus die gemeente liefgehad het en Homself daarvoor gegee het. Jou MANWEES het jou bediening daargestel. God het jou as MAN geskep en sy Skeppers doelwitte vir jou vasgestel. Alles anders waarvoor jy talente het, waarvoor God jou geroep en gesalf het, is sekondêr tot jou bediening as MAN.

Dieselfde geld vir die VROU. Jou VROUWEES definieer jou bediening. Jou bediening as VROU is die van eggenote, helper vir jou man, moeder, die heerlikheid van jou man, die een wat hom respekteer en vereer, wie hom in alles onderdanig is presies soos die gemeente aan Christus is, mede-heerser, mede-broodwinner, werknemer, werkgewer. Jou VROUWEES stel jou bediening vas. God het vasgestelde Skeppers doelwitte met jou as VROU. Alles anders waarvoor jy talente het, ’n roeping en salwing van God ontvang, is sekondêr tot jou bediening as VROU.

– Jannie van Zyl

Die kerk is ’n familie ervaring. Die gemeentelewe is familielewe. Die koninkryk van God is ’n familie koninkryk. Die familie liefde is die mees prominente aspek of kenmerk van die kerk. Die huiskerk is ’n familiekerk. Familieverhoudings is baie belangrik. Die MAN bediening en die VROU bediening is daarom baie belangrike bedienings. Dit is fundamentele bedienings. Dit is basis of grondliggende bedienings. Dit is die samebindende faktor in die gesin, in die gemeente en in die gemeenskap. As daar in die gesin chaos heers of afwykings is sal dit noodwendig deurwerk na die gemeente en na die gemeenskap. Ware bediening kan nie deur ’n wanordelike gesin, gemeente of gemeenskap werk nie. As daar ’n plek is waar ons God se orde móét handhaaf dan is dit in die gesin.

Ek hoop ek het met die skryf van hierdie boek jou begeerte na Jesus Christus, ons hemelse Bruidegom, aangewakker. Ek hoop dit het ’n honger in jou hart gesit om ’n ware nuwe geslag bedienaar vir God te wees. Ek hoop die huiskerk beginsels maak vir jou sin. Ek hoop jy kan die gevaar van godsdiens raaksien en die bestaan van godsdiens herken. Ek hoop Suid-Afrika kom op ’n plek waar sy burgers en inwoners ’n ware verhoudings geloof met hulle hemelse Bruidegom aangryp en omhels. Ek hoop diegene wat in godsdiens vasgevang is kom vry. Ek hoop en bid dat Jesus Christus in die kerk van Suid-Afrika leef as die enigste salwing en bediening. Jesus ín ons die hoop op heerlikheid vir Suid-Afrika.

As jy meer wil lees oor Nuwe-Testamentiese kerkleierskap, kry sommer nou die boek, “Bybel gefundeerde leierskap”, op die “Hulpmiddels” bladsy. 

Terug na die Tuisblad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment